Saturday, December 30, 2006

Donderdag


Ek het ook die oulikste video van bogenoemde drie wat aan hul ma (probeer) drink, maar ek
kon ongelukkig nog nie uitwerk hoe om video's van die kamera af te laai nie.
(Bogenoemde foto is spesiaal vir Do Kwang - dit moet sekerlik een of ander rekord wees dat iemand in drie posts in 'n ry na hom verwys! Ek blameer die feit dat dit nog net ons en Johan Swarts is wat leef in hierdie hoekie van die blogosfeer. Of is dit dalk sy onweerstaanbare sjarme en algemene eruditeit?)

Friday, December 29, 2006

Mampara van die Dekade

Do Kwang inspireer my om nog 'n Mampara te nomineer - hierdie keer die Mampara van die dekade:

Koning Goodwill [sic] Zwelethini

My kultuur en jou kultuur...


Do Kwang druk sy vinger op 'n senuwees wat vir my nogal rou is.

Ek doen navorsing oor seksuele geweld. Wat beteken dat ek dikwels die "my kultuur/ander kultuur" stryd met myself voer. Kan ek werklik sê iemand anders se kultuur is verkeerd, bloot omdat dit anders as (of dikwels lynreg teenoor) my eie kultuur is? Kan ek waarde-oordele uitspreek oor goed wat ek eenvoudig nie verstaan nie?

Want ek verstaan dit nie! Ek kan dit net beoordeel vanuit my eie (kultuur-bepaalde) verstaan van die werklikheid. Ek kyk altyd vanuit my eie kultuur na 'n ander kultuur. So sukkel ek byvoorbeeld om te verstaan hoe lobola vroue bemagtig, terwyl heelwat mense wat lobola praktiseer(?) my verseker dat dit juis tot voordeel van die vrou is. En ten spyte van verskeie gesprekke met Moslems, kan ek nog steeds nie insien hoe die Burqa geslagsgelykheid bevorder nie.

Iemand het 'n tydjie terug gesê dat Suid-Afrikaners se taak voorheen was om uit te vind wat ons "ons" maak. Ons taak nou is om uit te vind wat ons verskillend maak - wat ons, terwyl ons "ons" is, tog ook Afrikaner, Zulu, Xhosa maak. Ek sou aanneem dit veronderstel dat ons dit ook kan regkry om die verskille in ons onderskeie kulture te respekteer.

Ek was nog op skool toe daar skielik 'n vlaag verkragtings op die kampus van 'n sekere universiteit aan die Skiereiland was. Tydens 'n gesprek wat deur die studenteraad gereël is, het 'n swartman opgestaan en gesê dat daar niks verkeerd is met verkragting nie - dis deel van sy kultuur. Waarop 'n Afrikaanse outjie geantwoord het: "Apartheid is deel van my kultuur. Dit maak dit nie reg nie."

So, wanneer is my onvermoë om een kultuur se waardes te versoen met my eie, rasisme, 'n nadraai van die arrogansie van kolonialisme, en wanneer is 'n ander kultuur net eenvoudig verkeerd?

Wednesday, December 27, 2006

Mampara van die Jaar

Volgens die Sunday Times is Jackie Selebi die Mampara van die Jaar.
Ag nee wat. Hy kom nie náby Jacob Zuma nie.
Hierdie blog se Mampara van die Jaar dus:


Jacob Zuma!

Sunday, December 24, 2006

Kersfeeswense in 'n leë blogosfeer

Aan alle Christene wat hier lees:
Mag jy 'n besonder geseënde Kersfees hê in die wete dat God met ons is.

Aan alle nie-Christene wat hier lees:
Mag die banaliteit van die feesvieringe jou nie depressief maak nie, maar mag die oordaad en plastiek verdwyn te midde van 'n oordaad liefde.

Friday, December 22, 2006

Bond, Duck Bond

Photobucket - Video and Image Hosting

Ek sal een van die dae weer iets nice sê, ek belowe. Maar nie nou nie.
Ek is, om verskeie redes, nie 'n James Bond fan nie. Op etlike bloggers se aanbeveling het ek egter my vooroordele in my sak gesteek en Casino Royale gaan kyk.
Ag nee, regtig.
Die feit dat die grootste deel van die fliek bestaan uit poker (yawn) kan ek nog verwerk. Ek het bietjie gesukkel met die trok vol jetfeul - jetfuel! - wat deur 'n bus jaag sodat die bus ontplof (maar nie die jetfuel nie), die trok waarop daar geskiet word sodat die jetfuel in strome daaruit loop... maar nie ontplof nie.
Die hoof van die huis was ontsteld omdat daar geen kaal boobies in die fliek was nie. Gelukkig is daar 'n kaal James Bond. Ongelukkig lyk laasgenoemde soos 'n opgeblaasde balon. Ek ken geen regte vrou in 'n regte verhouding wat dink dis mooi nie. Persoonlik hou ek van 'n sagter, natuurliker lyf. (Ek is bv. mal oor die hoof van die huis se sixpack wat hy my belowe hy het. Hy beweer hy steek dit net weg onder 'n lagie vet.)
Ek wonder of die fliek se proefgehoor nie ook almal gesit en lag het terwyl arme Bond gemartel word nie - soos wat almal in die fliek waar ek was wel gedoen het.
Met al bogenoemde kan ek nog vrede maak.

Photobucket - Video and Image Hosting
"Kwaak Kwaak"

Waarmee ek egter nie kan saamleef nie, wat my die hele fliek lank gegrief het, wat my laat gril en voel ek wil die arme karakter net klap, is daai lippe. Kan iemand asb die persoon wat kollageen inspuitings vir mense se lippe uitgevind het, gaan skop? Dis erger as Keira Knightley! James Bond lyk die hele tyd soos 'n eend. In tonele waar hy veronderstel is om dapper en beslis te lyk, lyk hy asof iemand sy lippe in 'n klamp vasgeskoef het. Wanneer hy hartseer moet lyk, lyk hy soos die bewyse van my ma se dreigement dat jou gesig so gaan bly staan as die horlosie slaan. Wanneer hy sexy moet lyk, lyk hy soos 'n, wel, eend. En eende is nie sexy nie!

Thursday, December 21, 2006

Happy ever after.

Photobucket - Video and Image Hosting

Ek het 'n probleem met troues. 'n Groot probleem. So groot dat ek in die reël probeer om nie die goed by te woon nie.
Nie dat ek 'n probleem het met die huwelik nie. Wel, nie meer nie. Daar was 'n tyd wat ek gevoel het om te simpatiseer wanneer mense verloof geraak het. Sedert ek egter geseën is met hemel-in-getroude-suburbia, is ek nogal bly wanneer mense vir wie ek lief is ook hierdie tipe liefde vind.
Maar troues...
Dit voel vir my asof dit 'n hele lang seremonie is vir die vrou om haar lewe prys te gee, om op te hou bestaan, sodat sy die res van haar lewe kan leef as "Mev. Piet Poggempoel". Vir oulaas maak ons 'n groot fuss oor haar, sodat sy nie te erg ontsteld sal wees wanneer sy die res van haar lewe voortbestaan as iemand se vrou nie. (Interessante brokkie inligting: in Rusland mag vrouens nie lag op hul troufoto's nie. Hulle moet hartseer lyk, omdat hulle hul vryheid prysgee en vir die res van hul lewens hul mans moet versorg.)
So was ek hierdie week weer by 'n troue. Pragtige seremonie vir twee pragtige mense. Ek het as getuie gedien terwyl die man beloof om sy bruid te versorg, beskerm, lief te hê, om te sien na, en nog bla bla bla. Die bruid beloof om aan hom onderdanig te wees en haar lewe volgens syne te rig.
Is ek al mens wat dink dis absurd? Is ek al mens wat raaksien wat gebeur? Is ek al mens met wie vrouens van 40+ praat oor hoe hulle hul identiteit verloor en ophou bestaan het toe hulle getroud is? Is ek al mens wat my flippen Bybel lees?! (Ek sê "flippen" omdat dit bietjie erg sal wees om die ander "f" woord vir die Bybel te gebruik.) Of dalk is daar 'n drukfout in my Bybel waar daar staan dat man en vrou aan mekaar moet onderdanig wees.
But I digress. Nadat ons bekend gestel is aan Mnr en Mev Poggempoel (want natuurlik kan sy nie eers haar náám behou nie), kondig die pastoor aan dat die paartjie vir mekaar gaan nagmaal bedien. Ek het nog nooit verstaan hoekom mense nagmaal gebruik by hul troues nie, maar ek het ook nog nooit verstaan hoekom mense Bryan Adams se "Everything I do" speel by troues nie, so each to their own. Ek was egter verstom toe ek sien hoe hulle "mekaar" met die nagmaal bedien: hy breek die brood, gee vir haar 'n stukkie en eet self 'n stukkie. Daarna gee hy vir haar 'n slukkie wyn en neem self 'n slukkie. Sy ontvang, hy gee.
Gelukkig het hulle nie kerse doodgeblaas soos wat sommige se ongelukkige gebruik is nie.
Ek wonder hoe 'n troue van twee gay vroue of mans gaan lyk? Dalk gaan die gays ons (ook) hier help om juis vir 'n slag die Bybel ernstig op te neem en om te ontdek dat twee mense wat mekaar liefhet, mekaar dien - as gelykes.

Friday, December 15, 2006

Aanhaling van die week

Assumption is the mother of all f*ups.

Vervolg

"KNOWN ISSUES FOR BLOGGER IN BETA

Logging in with an old Blogger account to post a comment on the new Blogger is giving a “please try again later” error. Until we fix this, it may work to log in first at http://www.blogger.com/login.g, and then go to the comments page on the new version of Blogger in beta. — latest update on Thursday, December 14, 2006 "

Thursday, December 14, 2006

Die punt van blog is die gesprek

Dit het onder my aandag gekom dat sommige mense nie meer kommentaar op my blog kan los nie. So, wat ek dus gesien het as die dawerende gedruis van apatie, was al die tyd waarskynlik (so troos ek myself) die wonder van blogger beta.
Aangesien dit my warm en fuzzy aan die binnekant laat voel om kommentaar op my blog te kry, stel ek dus die volgende noodmaatre"el in tot tyd en wyl die gewone kommentaar weer werk: as jy graag kommentaar wil lewer en blogger wil jou nie toelaat nie, kan jy jou kommentaar e-pos en ek sal dit onder jou naam/pseudenaam plaas. As jy wil, natuurlik. En dit nie te veel moeite is nie. Stuur dit sommer na my naam by gmail. (Hierdie reeling geld ook terugwerkend vir enige vorige kommentaar wat jy wou los, maar heel tragies nie kon nie.)
Ek waarborg: as enigiemand my spam of enige e-posse stuur met die verwagting dat ek dit sal aanstuur of enigiets met oulike katjies/hondjies/hasies, sal dit drie keer na hulle toe terugkeer. And not in a good way.

Wednesday, December 13, 2006

@home

"As much of a delight to hold and use as it is to look at."

Tuesday, December 12, 2006

Ek kan die versoeking nie weerstaan...

om nog 'n aanhaling uit Ds. Hannan Viljoen se besondere boek te plaas nie.


KLEREDRAG MY EIE SAAK?

In die lig van die feit dat niemand van ons apart op sy eie aardbol woon nie en daar dus nie 'n geïsoleerde geskeidenheid tussen die twee geslagte bestaan nie, kan geen dame van die standpunt uitgaan dat kleredrag haar eie saak is en dat dit niemand anders om haar raak nie! Wanneer 'n dame ontblotende of prikkelende kleredrag aantrek, is dit 'n besliste struikelblok vir elke normale man of seun - blank of nie blank.

Dié waarheid word bevestig deur die getuienis van 'n swartman wat 'n tyd gelede op ses aanklagte van kriminele aanranding tereg gestaan het. Volgens sy getuienis het die kleredrag van sekere vroue onder meer tot die wandade aanleiding gegee. Tereg het die Prokureur-generaal oor hierdie saak opgemerk dat die samelewing moreel skuldig was aan die misdade wat gepleeg is!

5. Dit Verneder die Vrou

Wanneer die vrou as gevolg van verkeerde kleredrag 'n objek van openbare wellus word, word daarmee ook haar eie vroulikheid verneder. In plaas daarvan dat sy die verhewe, verfynde inspireerder bly wat deur die man geïdealiseer word, word sy goedkoop gemaak, en uiteindelik verloor sy ook die agting, bedagsaamheid en eerbied wat die verhewe vrou waardig is.

Ek gaan nou ophou, voordat ek begin vloek.

Sunday, December 10, 2006

Jerusalem

Wáár kan ek hierdie fliek kry?

Saturday, December 09, 2006

Lily?


(N.a.v. Johan Swarts se kommentaar)

Friday, December 08, 2006

Bybelantwoorde op Kwelvrae

Geïnspireer deur ruzelda, gaan grawe ek 'n ou boek uit wat ek jare gelede by my oom gekry het:
"Die Christen en...
verhoudingslewe
kleredrag
dans
lotery
liefdeslewe
drank
trompoppies
sondag
rook
skoonheidswedstryde
redding
voljarding
?"
deur Ds. Hanan Viljoen.

Voor in die boek is die volgende handige riglyne ingeplak:

"WENKE VIR DIE VOORLEES VAN ONDERWERPE BY VERGADERINGS

By die voorlees van hoofstukke vir 'n vergadering, is die volgende noodsaaklik:

Die persoon wat die voorleseing doen, moet vooraf die betrokke hoofstuk noukeurig deurlees. Om dit hardop te doen en op dié wyse die voordrag te oefen, sal die beste resultaat lewer. Alleen as die voorlesing dinamies, duidelik en met die nodige 'ingestudeerde' begrip gedoen word, kan dit tref. Daar moet veral teen gewaak word om te vinnig of te sag te lees.

Om alle Skrifverwysings in die vergadering te lees, kan die vloei van die voorlesing belemmer. Daar moet dus tydens die voorbereiding met diskresie besluit word watter tekse gelees gaan word. Om papiermerkies met die bepaalde teks daarop geskrywe by die betrokke Skriftuurplase in te sit, werk die maklikste en vinnigste.

Om vooraf te volhard in die gebed vir elke voorlesing, is aboluut belangrik. Alleen die Gees van God kan die waarheid bevestig en harte beweeg.

Groete in Christus,
Ds. Hanan Viljoen, Bus 142
Baberton"

Dan is ons gereed om na die inhoudsopgawe te blaai (ek lig slegs enkele hoogtepunte uit 'n magdom opskrifte uit):

HOOFSTUK 2. DIE CHRISTEN EN SY KLEREDRAG
Vanwaar die ontblotingsneiging?
Mag die Christenvrou ook modern wees?
En wat van die langbroek?
Rok altyd verkieslik.
Wat van sportdrag?
Klein dogtertjies.
Die onnetheidskultus.

HOOFSTUK 3. DIE CHIRSTEN [sic] JONGMENS EN SY VERHOUDINGSLEWE
Wat van liefkosing?
Wanneer is liefkosing dan geoorloof?
Verdere opmerkings oor liefkosing.
Waarom gaan jongmense te ver in hul liefkosing?
Wees nog eens gewaarsku!

HOOFSTUK 4. DIE CHRISTEN EN DANS
Ons beskou die dans van naderby.
'n Studiekommissie word aangestel.
Die vrug van dans.
Die speler in die dansorkes.
Matreik-Afskeidsfunksies.
Dans nie noodsaaklik vir 'n gelukkige jong lewe.
Waarom sommige die verkeerdheid van dans nie kan insien nie.

HOOFSTUK 5. DIE CHRISTEN EN DIE ROOKGEWOONTE
Kan filters help?
Die rookgewoonte en die vrou.

HOOFSTUK 8. DIE CHRISTENMEISIE EN TROMPOPPIES
Trompoppies as 'n struikelblok.
Die vrou verneder.
Die eer van ons dogters op die spel.

HOOFSTUK 9. DIE CHRISTENMEISIE EN SKOONHEIDSWEDSTRYDE
Onbehoorlike kleding.
Oorsaak van struikeling.
Skaamtegevoel afgebreek.
Verdere negatiewe invloed op deelneemsters.

As jy tot hier gelees het, baie geluk.
Indien enige van my jong lesers verdere inligting verlang oor enige van bogenoemde onderwerpe (of enigeiets anders wat Ds. Hanan Viljoen moontlik aangeraak het, maar wat ek nie genoem het nie), kan hulle net vra. Ek bedien u graag met Ds. Hanan Viljoen se helder en duidelike antwoord.

Ek sluit af met 'n aanhaling (nie van Ds. Hanan Viljoen nie):
"The church is not in the morals business. The world is in the morals business... What the world cannot get right, however, is the forgiveness business - and that, of course, is the church's real job. She is in the world to deal with the things which the world can't turn off or escape from. She is not in the business of telling the world what's right and wrong so that it can do good and avoid evil. She is in the business of offering, to a world which knows all about that tiresome subject, forgiveness for its chronic unwillingness to take its own advice. But the minute she even hints that morals, and not forgiveness, is the name of her game, she instantly corrupts the Gospel and runs headlong into blatant nonsense."

Thursday, December 07, 2006

Hasie, hoekom is jou... horings so lank?

Paasfees


Kersfees


Weird.

Wednesday, December 06, 2006

Tadaaa!

Finale bewyse:
Size does not matter!

Photobucket - Video and Image Hosting

Tuesday, December 05, 2006

Hoeveel mense kan dit sê?



Ek was gister in Oesterbaai.

Friday, December 01, 2006

1 Desember


BlogAfrikaans.co.za