Friday, December 29, 2006

My kultuur en jou kultuur...


Do Kwang druk sy vinger op 'n senuwees wat vir my nogal rou is.

Ek doen navorsing oor seksuele geweld. Wat beteken dat ek dikwels die "my kultuur/ander kultuur" stryd met myself voer. Kan ek werklik sê iemand anders se kultuur is verkeerd, bloot omdat dit anders as (of dikwels lynreg teenoor) my eie kultuur is? Kan ek waarde-oordele uitspreek oor goed wat ek eenvoudig nie verstaan nie?

Want ek verstaan dit nie! Ek kan dit net beoordeel vanuit my eie (kultuur-bepaalde) verstaan van die werklikheid. Ek kyk altyd vanuit my eie kultuur na 'n ander kultuur. So sukkel ek byvoorbeeld om te verstaan hoe lobola vroue bemagtig, terwyl heelwat mense wat lobola praktiseer(?) my verseker dat dit juis tot voordeel van die vrou is. En ten spyte van verskeie gesprekke met Moslems, kan ek nog steeds nie insien hoe die Burqa geslagsgelykheid bevorder nie.

Iemand het 'n tydjie terug gesê dat Suid-Afrikaners se taak voorheen was om uit te vind wat ons "ons" maak. Ons taak nou is om uit te vind wat ons verskillend maak - wat ons, terwyl ons "ons" is, tog ook Afrikaner, Zulu, Xhosa maak. Ek sou aanneem dit veronderstel dat ons dit ook kan regkry om die verskille in ons onderskeie kulture te respekteer.

Ek was nog op skool toe daar skielik 'n vlaag verkragtings op die kampus van 'n sekere universiteit aan die Skiereiland was. Tydens 'n gesprek wat deur die studenteraad gereël is, het 'n swartman opgestaan en gesê dat daar niks verkeerd is met verkragting nie - dis deel van sy kultuur. Waarop 'n Afrikaanse outjie geantwoord het: "Apartheid is deel van my kultuur. Dit maak dit nie reg nie."

So, wanneer is my onvermoë om een kultuur se waardes te versoen met my eie, rasisme, 'n nadraai van die arrogansie van kolonialisme, en wanneer is 'n ander kultuur net eenvoudig verkeerd?

3 Comments:

At 3:19 PM, Blogger Do Kwang said...

Kultuur en tradisie is nonsens verskonings. Niks, maar niks, is reg bloot omdat dit iemand se sogenaamde kultuur is nie. Jy verskaf of rasionele redes hoekom jou gebruike aanvaarbaar is, of jy aanvaar dis verkeerd.
Voorts: Beskawing, burgerlike vryheid, respek vir ander lewe, ens. is nie Westerse waardes nie, dis universele waardes, wat al reg oor die wereld heen opgeduik is en wat ook reg oor die wereld heen al vertrap is. So enigiemand lieg as hulle se^ hulle wil vroue of diere of die natuur of mans mishandel omdat beskaafde gedrag 'n Westerse konstruk is.

 
At 12:53 PM, Blogger maeree said...

nadat ek jou blog gelees het, verstaan ek jou woede.
maar ek wonder of dit so eenvoudig is. stem saam dat beskaafde gedrag nie 'n westerse konstruk is nie, maar ons leef tog in die weste met 'n bepaalde definisie van beskawing.
en ons is bv nie almal vegetariërs nie.

 
At 1:05 PM, Blogger Do Kwang said...

Baie mense in die Weste voldoen ook nie aan daardie idee van beskawing nie. Die verband tussen beskawing en die Weste is nie noodwendig nie.
Persoonlik dink ek daar is iets condescending daarin om Oosterlinge/Zoeloes/Moslems/wie okal aan 'n ander standaard van beskaafde gedrag te beoordeel, net omdat mens dink hulle kan nie aan dieselfde hogere vereistes van beskaafde gedrag as jyself voldoen nie. Dis soos al daai mense wat altyd se^ "Ag gun die mensies in Afrika maar hul dikatators, hulle kan nie regtig demokrasie handle nie". Die mense wat byvoorbeeld sal beweer dat patriargie 'n kosbare deel van Moslemkultuur is, is gewoonlik maar daardie groep bevoorregte mans wat in elkgeval voordeel daaruit put. Ek sien nie dat die gay mans wat in Iran gehang word kulturele relatiwisme bepleit nie.

 

Post a Comment

<< Home

BlogAfrikaans.co.za