Thursday, December 21, 2006

Happy ever after.

Photobucket - Video and Image Hosting

Ek het 'n probleem met troues. 'n Groot probleem. So groot dat ek in die reël probeer om nie die goed by te woon nie.
Nie dat ek 'n probleem het met die huwelik nie. Wel, nie meer nie. Daar was 'n tyd wat ek gevoel het om te simpatiseer wanneer mense verloof geraak het. Sedert ek egter geseën is met hemel-in-getroude-suburbia, is ek nogal bly wanneer mense vir wie ek lief is ook hierdie tipe liefde vind.
Maar troues...
Dit voel vir my asof dit 'n hele lang seremonie is vir die vrou om haar lewe prys te gee, om op te hou bestaan, sodat sy die res van haar lewe kan leef as "Mev. Piet Poggempoel". Vir oulaas maak ons 'n groot fuss oor haar, sodat sy nie te erg ontsteld sal wees wanneer sy die res van haar lewe voortbestaan as iemand se vrou nie. (Interessante brokkie inligting: in Rusland mag vrouens nie lag op hul troufoto's nie. Hulle moet hartseer lyk, omdat hulle hul vryheid prysgee en vir die res van hul lewens hul mans moet versorg.)
So was ek hierdie week weer by 'n troue. Pragtige seremonie vir twee pragtige mense. Ek het as getuie gedien terwyl die man beloof om sy bruid te versorg, beskerm, lief te hê, om te sien na, en nog bla bla bla. Die bruid beloof om aan hom onderdanig te wees en haar lewe volgens syne te rig.
Is ek al mens wat dink dis absurd? Is ek al mens wat raaksien wat gebeur? Is ek al mens met wie vrouens van 40+ praat oor hoe hulle hul identiteit verloor en ophou bestaan het toe hulle getroud is? Is ek al mens wat my flippen Bybel lees?! (Ek sê "flippen" omdat dit bietjie erg sal wees om die ander "f" woord vir die Bybel te gebruik.) Of dalk is daar 'n drukfout in my Bybel waar daar staan dat man en vrou aan mekaar moet onderdanig wees.
But I digress. Nadat ons bekend gestel is aan Mnr en Mev Poggempoel (want natuurlik kan sy nie eers haar náám behou nie), kondig die pastoor aan dat die paartjie vir mekaar gaan nagmaal bedien. Ek het nog nooit verstaan hoekom mense nagmaal gebruik by hul troues nie, maar ek het ook nog nooit verstaan hoekom mense Bryan Adams se "Everything I do" speel by troues nie, so each to their own. Ek was egter verstom toe ek sien hoe hulle "mekaar" met die nagmaal bedien: hy breek die brood, gee vir haar 'n stukkie en eet self 'n stukkie. Daarna gee hy vir haar 'n slukkie wyn en neem self 'n slukkie. Sy ontvang, hy gee.
Gelukkig het hulle nie kerse doodgeblaas soos wat sommige se ongelukkige gebruik is nie.
Ek wonder hoe 'n troue van twee gay vroue of mans gaan lyk? Dalk gaan die gays ons (ook) hier help om juis vir 'n slag die Bybel ernstig op te neem en om te ontdek dat twee mense wat mekaar liefhet, mekaar dien - as gelykes.

8 Comments:

At 1:07 PM, Blogger Lammervanger said...

Die tipe dingetjies wat mens maar uitsorteer VOORDAT mens trou...maak seker dat mens dieselfde dink oor die goed. Dit gebeur natuurlik nie in SA nie, dis hoekom ons 'n 1 uit 3 egskeidingsyfer het (dit sluit natuurlik nie die ontelbare ongelukkige huwelike in nie). Hiermee beloof ek, JJV, dat my vrou my gelyke sal wees in alle opsigte en dat ek sal trou wanneer ek en sy altwee reg is en nie wanneer dit nou tyd is om te trou nie.

Dankie.

Ek hou baie van troues.

 
At 1:08 PM, Blogger Lammervanger said...

O ja, my openingsliedjie sal Going Back West van Boney M wees of Radio Dancing van Engelbert Humperdink sodat pappa LEKKER kan toonstoot.

 
At 5:59 PM, Anonymous Anonymous said...

trou met 'n stofsuier...klink maar redelik saai vir my...

 
At 9:56 AM, Blogger Do Kwang said...

Dis dalk net die kringe waarin ek beweeg, maar omtrent die laaste 5 troues waarby ek was, het geslagsgelyke litugiee ingesluit en predikante wat 'n punt daarvan gemaak het om die paartjie te vermaan dat hulle altyd mekaar se gelyke moet wees ens.

 
At 10:09 AM, Blogger maeree said...

lammervanger, ek hoop om "18 till i die" by my begrafnis te laat speel.

johan, stofsuier... ek weet nie jong, dit klink asof dit nogal potensiaal kan hê.

do kwang, ek moet saamstem. omtrent 90% van die troues wat ek al bygewoon het is deur 'n baie nice predikant behartig wat al die regte goed gesê het. maar elke af en toe slaan daar een soos dié uit.

 
At 10:38 AM, Blogger Freddy said...

En nouuu skielik tel die bybel wanneer dit iewerste gelukkig tog se^ wat ons wil he^ dit moet se^: "mekaar".

:-)

 
At 10:44 AM, Blogger maeree said...

freddy, ek kan sien jy benodig 'n vakansie. het jy gehou van my grappie?

 
At 9:07 PM, Anonymous Anonymous said...

Geen huwelik is sonder beproewings en tog het ek al baie gesien, wat gelukkig getroud is. Wat het julle oor gekom?

 

Post a Comment

<< Home

BlogAfrikaans.co.za