Dit voel soos gister wat ek in 'n sneeubedekte sprokieswêreld aangeland het.
Nou vertrek ek uit 'n sopnat, heldergroen land waar die son nooit ondergaan nie.
Ses maande terug sou ek nooit kon voorspel dat dit vir my so onbeskryflik hartseer sal wees om Swede te verlaat nie. Ek het nog altyd geweet dat die grond van Afrika die bloed is wat deur my are klop. Skandinawië is wonderlik. As ek hier bly, sal my lewe heerlik gemaklik wees - en nie veel beteken nie. Dit is in my eie land waar ek hoort, waar ek saam met my landgenote moet worstel met goed wat simpel en seer en onnodig is, maar wat om lewe en dood toe saak maak.
Dalk, eendag, gaan mense nie meer dood van armoede in ons land nie.
Dalk, eendag, wil ek nie meer terugkom Swede toe nie.