So sit ek in Grahamstad by 'n tafeltjie en eet die heerlike bord kos wat ek by die maer, pimply seuns van die Hare Krishna-stalletjie gekoop het.
Ander mense kom sit ook by my tafeltjie, maar ignoreer my.
Daar word by die mense voor my, langs my, agter my gebedel, maar nie by my nie (ek gee nie om nie).
Die een mens na die ander kom deel "asseblief-kom-kyk-ons-show" pamflette uit aan al wat leef en beef - maar nie aan my nie.
Die Hare Krishna wat die kort strooitjie getrek het, probeer hul literatuur aan al wat asem haal verkoop, maar kyk by my verby.
Die Hoof van die Huis kom terug van sy (uiters produktiewe) rondte deur die voedselstalletjies. Ek vertel hom van die vreemde fenomeen waar almal my ignoreer.Sy reaksie is om homself half simpel te lag en te besluit dat ek onsigbaar is.
Net daarna - ek lieg nie, onmiddelik daarna - kom nog iemand verby, leuen
bo-oor my en gee vir die Hoof van die Huis 'n hand vol pamflette.
In die
reeks wat ek besig is om te lees, het hekse die vermoë om hulself onsigbaar te maak. Hulle verdwyn nie, hulle ont-fokus hulself net. Mense sien hulle, maar registreer nie dat hulle iemand gesien het nie.
Tiffany Aching doen iets soortgelyks.
Dit is dus moontlik dat my onsigbaarheid 'n vreemde oorblyfsel van my Wiccan dae is.
Ongelukkig weet ek wat die ware rede is, en dit baie meer sinister* as blote heksery.
*Dis in die HAT. Ek't gekyk.