Tuesday, October 17, 2006

Iets goeds in Die Burger

SNAAKS. Baie kerkmense wens die Bybelse voorskrifte was duideliker, die goddelike eise glashelder vir elke situasie, die kerklike stem meer profeties oor al die morele verval. Baie verlang duidelike antwoorde, onbetwyfelbare riglyne. Wil presies weet wat God wil – sodat hulle dit net kan doen. Wil nie altyd wonder, heeltyd loop met vrae, onsekerheid, die roeping om self te onderskei nie. In sy verhaal oor die broers Karamazov skets Dostojewski ’n dramatiese toneel in die tronk in Sevilla. Iemand is gearresteer wat op straat ’n stoet gestop en ’n dogtertjie opgewek het – opsigtelik Jesus, alhoewel net die gevangene genoem. In die donker van die nag besoek die gryse kardinaal, gestalte van die kerk, dié gevangene in die geheim. Hy ondervra hom, maar omdat dié bly swyg word dit ’n aangrypende alleenspraak – van die kerk. Hy kla die prisonier aan. Weet hy hoe worstel die kerk al eeue met mense se vryheid, om dit in toom te hou? En nou kom maak hy dié vryheid net nog groter! Kom gooi reëls af en maak ons eie onderskeidingsvermoë net nóg belangriker! Dis onuithoudbaar, ondraaglik, sê die kardinaal. Met soveel vryheid kan niemand leef nie! Mense wil presies weet wat God, Skrif en kerk sê – en sal dan selfs daarvoor sterf, of ánder laat sterf, maar met sóveel vryheid en eie verantwoordelikheid kan geeneen leef nie. Tog snaaks, né?
Die etikus James Gustafson vertel dat hy en sy vrou op ’n keer – tipies Amerikaans – gemeentes in ’n nuwe stad besoek om te kyk waar hul sou tuis voel. Tydens so ’n gesprek vra ’n voornemende lidmaat driftig aan die leraar of dié gemeente glo in die duidelike Bybelse voorskrifte oor allerlei sake – aborsie, homoseksualiteit? Die predikant glimlag effe, en sê persoonlik hou hy nogal meer van die een oor tiendes. Ongelukkig vér te subtiel vir die kêrel-met-die-vraag, sê Gustafson skalks. Tog duidelik – óók snaaks? – DJS

4 Comments:

At 9:03 PM, Anonymous Anonymous said...

Wat n waaghalsige en kontroversieele opskrif tot jou post!!

Allemintag!!,...living on the edge!?

Klagat

 
At 2:26 AM, Blogger Lammervanger said...

Ek sê mos nog altyd dat te veel Christene nie wil dink nie. Wat gister verkeerd was kan môre reg was as die Bybel intussen so gesê het.

 
At 5:24 PM, Anonymous Anonymous said...

As ons almal presies geweet het wat God wil, dan het die lewe vir my geen sin meer nie, want dan's ons masjiene wat die ewige ekspans aandryf en seker maak dat gister vandag word, en vandag die toekoms. Dis daarom dat ek eerder aan God se wil dink as God se hart. Ek onthou iets van "Ek het gekom om julle vry te maak van die wet"...Was dit mense vir wie dit gese is nie dalk in dieselfde boot nie? Hoop nie ekt nou te veel gese-dink hier nie...

 
At 6:44 PM, Blogger maeree said...

batcat, jy's welkom om hier hardop te dink. veral as jy met my saam stem.

 

Post a Comment

<< Home

BlogAfrikaans.co.za