Wednesday, May 17, 2006

Perspektiewe op voete

Vir enige intelektuele oefening om sinvol te wees, moet daar diversiteit wees (ek staan ook by my vorige standpunt). Anders kry jy 'n verwronge beeld van die waarheid, 'n fokus op een klein aspek daarvan. Die feit dat denke oor die Bybel vir eeue lank deur mans gedomineer is, het bv veroorsaak dat ons die grootste spul twak oor die arme Samaritaanse vrou kwytraak.
En Rut. Die arme Rut. My handpalms begin al byvoorbaat sweet as mense oor haar begin praat. Sy word voorgehou as die toonbeeld van vrouwees: gehoorsaam, nederig, afhanklik, 'n rein weduwee (die blote gebruik van die woord "rein" sê al vir jou meer as genoeg). Dan word daar met druppende stroop uitgewy oor hoe sy by Boas se voete gaan lê het op die dorsvloer, hoe beïndruk hy was met haar reinheid en hoe hy daarna aangebied het om met haar te trou. Wat presies dink mense het hulle daar op die dorsvloer gedoen? Nadat Boas heel nag lank die oes gevier het! Ek dag almal weet dat "voete" 'n Hebreeuse eufemisme vir 'n "manlike geslagsdeel" is.

Die hoof van my huis se voete

Turns out dit was maar net die begin, kom ek agter toe ek op die volgende afkom:
Indien ons aanvaar, soos meeste uitlêers, dat “voete” in die Ou Testament gebruik word om manlike geslagsorgane aan te dui, gaan Rut doelbewus dorsvloer toe om Boas te verlei. Op die dorsvloer het hulle vurige seks. In die proses oortree hulle drie seksuele taboes: ’n Jood het met ’n Moabitiese vrou seks (ondenkbaar volgens Esra), hulle is nie getroud nie (ondenkbaar volgens baie van ons opvattinge oor seks) en dan die ergste: seks op die dorsvloer was ’n eeue oue gebruik wat uit Kanaän se dae oorgeërf is. Om seks op die dorsvloer te hê, was om hulde te bring aan die afgode van Kanaän. So is die afgode vereer omdat hulle die oes voorsien het. So is hulle seën verkry op jou eie seksualiteit. Seks op die dorsvloer was aanbidding van afgode. Die nagevolge van die seksuele verhouding is aan ons almal goed bekend: Rut en Boas word ouers, die voorgeslagte van Dawid en Jesus. Die ondenkbare gebeur: die Here seën daardie seksuele verhouding wat volgens alle gangbare idees van wat “ordelike” seks behoort te wees, veroordeel behoort te word. Veral verwag ons dat die Here (en sy verteenwoordigers) sulke seks moet veroordeel. Tog gebeur dit nie. Die verhaal bly in die Bybel. Geen sensor het die moed om die verhaal te wysig nie. Verstommend. Waarom?

2 Comments:

At 3:00 PM, Blogger PienkZuit said...

Die Ou Testament gaan nou nooit weer vir my dieselfde wees nie.

 
At 9:04 PM, Blogger maeree said...

Ek is bly! Die OT is 'n skatkis vol serendipity (veral vir Christene) as ons dit kan regkry om dit te lees sonder ons ou sondagskool voorveronderstellings.

 

Post a Comment

<< Home

BlogAfrikaans.co.za