Monday, July 31, 2006

Die kuns van die zirrip

Terwyl ek nou besig is met lesse oor hoe om allerhande goed te doen, bied ek graag die volgende openbare diens ook aan: Die kuns van die zirrip.
1) Vind 'n geliefde op wie jy graag jou zirrip vaardighede wil oefen.
2) Wag tot die persoon kwesbaar is (uitgestrek op die rusbank om rugby te kyk werk altyd vir my).
3) Kies 'n stukkie vel wat uitsteek (soos bv maag of nek, pienk zuit! Ons is nou vir eers klaar met die voete.)
4) Plaas jou lippe teen die stukkie vel van jou keuse.
5) Blaas so hard as wat jy kan.
En siedaar - 'n zirrip!
Zirrips werk ook goed op klein kindertjies. Maar dit is nie so bevredigend om te hoor hoe 'n klein dogtertjie soos 'n klein dogtertjie skree nie. Dit is veel meer bevredigend om te hoor hoe 'n 36-jarige, 2 meter lange man soos 'n klein dogtertjie skree.

Natuurlik kan 'n mens nie jou zirrip-vaardighede slyp sonder om ook te weet hoe om jouself teen ander mense se zirrip aanvalle te verdedig nie. (Ek kan dit met groot vrymoedigheid hier plaas, aangesien my zirrip slagoffer nie self my blog lees nie - hy verwag dat ek dit vir hom voorlees. Ek kan dus na hartelus redigeer.)
Hierdie raad het ek by 'n vriend van my gekry: "Ek vind dat dit vinniger oorgaan as ek stil lê en wag dat dit ophou." Die truuk is dus om jouself nie fisies of verbaal te probeer verdedig nie.

Happy zirriping!

Friday, July 28, 2006

Ek was so ontsteld, ek't skoon vergeet van 'n titel.

Oorle Prof wys ons hierop.

Ek wil nie graag by kerklike debatte oor nonsens betrokke raak nie, maar dalk kan ek my maar hier daaroor uitspreek. My blog gaan in elkgeval oor nonsens.

Net omdat hy 'n boek of twee geskryf het, beteken dit nie Jaco Thom praat met meer gesag as Christo de Klerk nie. Om die waarheid te sê, Thom praat plain twak. De Klerk neem die konteks en kultuur van die verhaal in ag. Thom neem net sy eie kultuur en vooroordele in ag. Om te sê Rut en Boas het nie seks gehad nie omdat hulle mense met integriteit was, is nie net onwetenskaplik nie, dis sommer plain stupid. Die idee dat seks binne die huwelik hoort, is maar net twee, hoogstens drie eeue oud. Vroulike seksualiteit is in Rut en Boas se tyd bepaal deur wette rondom besit. 'n Man mag dus nie seks hê met 'n ander man se vrou of dogter nie, want sy behoort aan iemand anders. Dieselfde reëls het nie gegeld vir geskeide vrouens of weduwees nie. En raai wat was Rut?

Dit is ook obvious dat voete 'n metafoor was vir die manlike geslagsdeel. Neem bv. Eksodus 4 [wie klink nou soos 'n dominee?], waar God vir Moses wou doodmaak. Sippora red vir Moses deur hom simbolies te besny: Sippora vat toe ‘n klipmes, sny haar seun se voorhuid af, raak daarmee aan Moses se voete en sê: "Jy is nou my bruidegom wat deur bloed beskerm word." Of Josua 10, waar Josua sy manskappe nooi om hul voete teen die krygsgevangenes se nekke te druk - amper soos wat die Amerikaners met hul krygsgevangenes gedoen het.


Ek het nie Thom se boek oor Dawid en Batseba gelees nie. Maar ek het een slag 'n preek gehoor waar die dominee gesê het die hele affair was Batseba se skuld omdat sy op die dak gebad het. &%$#! Dis waar mense gebad het! Die vraag is nie hoekom Batseba op die dak gebad het nie, maar wat Dawid op sy dak gesoek het as hy geweet het dis die tyd wat vroue bad. En Batseba het geen reg gehad om Dawid se aandag te weier óf te verwelkom nie.

Wednesday, July 26, 2006

Vir Freddy

Soos versoek, my handsak:


Ek is bietjie skaam daaroor, want ek glo die grootte van mens se handsak is direk eweredig aan jou ouderdom. En myne is massive.
Maar jy't reg, dit is van "cargo" materiaal gemaak. En nee, ek vroetel nie die hele tyd daaraan nie, want daar is nie boude in nie.

Tuesday, July 25, 2006

Hoe om 'n sneeumens te bou.

Na aanleiding van al die Wes-Kaapenaars se spoggery, en die feit dat ek op TV sien Suid-Afrikaners weet eenvoudig nie hoe om sneeumanne of -vroue te bou nie, lewer ek met graagte die volgende openbare diens: "Hoe om 'n sneeuman te bou."



Soos met meeste dinge in die lewe, is daar 'n truuk. 'n Mens vat nie hande vol sneeu en druk dit teen mekaar vas om 'n groot bol sneeu te maak nie. Jy vat 'n klein balletjie sneeu en rol dit. Die bal raak dan vanself baie vinnig groter, sodat jy in 'n japtrap 'n sneeuman het wat net so lank is soos jy (1.52m in my geval).

Monday, July 24, 2006

Les

Ek weet van twee vrouens - die een 'n goeie vriendin van my, die ander iemand wat ek glad nie ken nie - wat eendag gedink het dis 'n goeie idee om 'n koppie warm koffie tussen hul bene neer te sit. Of dalk het hulle nie gedink nie. Hoe dit ookal sy, albei se koffiebekers het omgeval. Albei moes mediese hulp kry. Albei het vir 'n tyd lank daarna nog snaaks geloop.
Die moral of the story? Jy moet pasop wat jy tussen jou bene sit - jy kan brand.

Friday, July 21, 2006

Cargo Pantsies

Ek dink cargo pants is die beste uitvinding sedert hoë-spoed internet konneksies. Die persoon wat cargo pants ontwerp het, verdien 'n Nobel prys. Ek hou veral van die soort met sakke op die boude.

Dit maak my beserk. Ek kan my self nie help nie, verloor alle selfbeheersing. Ek kan eenvoudig nie my hande daarvan afhou nie. Wat sosiale interaksie nogal bemoeilik.

Thursday, July 20, 2006

Ag nee, nie al weer nie

Ek dink ek het myself in Swede vergeet.

Wednesday, July 19, 2006

Eervolle vermelding

Ek het gedink freddy se kommentaar op Jou naaste soos jouself verdien spesiale vermelding:

"Ek het nogal gehou van Scott Peck in Road Less Travelled se siening van liefde: dit gaan juis oor die ander persoon. Om mense lief te hê is anders as om lief te wees vir waatlemoen of steak of Skandinawië. Hy sê iets soos dat liefde graag wil sien dat die ander persoon groei en ontwikkel. As ek dus nie wil hê my kinders moet grootword en uit die huis uitgaan nie, is ek nie regtig lief vir hulle nie. Sy punt is dan: selflose liefde is nie baie lekker nie.

Ag, en die liewe Dr. Phil, waaroor ek graag self spot, is nie 'n dom man nie. (Neem bv. net sy sin vir besigheid in ag!?) HY sê dat liefde eerder gaan oor my EIE potensiaal om te KAN liefhê. Dit beteken dat whoever maar nasty kan wees soos hy/sy wil: as EK besluit het om my potensiaal om te kan liefhê uit te leef, basta vir die een wat dit vir jou wil moeilik maak. (Interne lokus van kontrole vs ekstern.)

Volgende vragie, dan: Ons wil graag interne lokus van kontrole hê. Ekke. Myself. My omstandighede moenie my geluk bepaal nie. Dit lê nie buite my nie. Maar 'n sielkundige het teenoor my genoem sy dink nie sy stem heeltemal daarmee saam nie. Al sê ons God is binne ons, is ek en God nie dieslefde wese nie. As God deel is van ons lokus van kontrole (verbly jul in die Heer): Het ons dan 'n interne of eksterne lokus van kontrole?"

Tuesday, July 18, 2006

whiney whiney whiney

Daar is baie dinge waaroor ek kan ontsteld raak: die oorlog in die Midde Ooste; nóg 'n tsunami; misdaad; wapenbesit; armoede; MIV & Vigs...
Maar nee. Die ding wat my vandag aftick, is shampoo advertensies.


Niemand het sulke hare nie. Magtig.
Hierdie advertensies van vrouens wat glimmende hare swaai, maak my siek. Dis g'n wonder dat mense dink dat Pantene jou hoog maak nie.

Monday, July 17, 2006

'n Vraag waaroor ek al baie lank wonder.

Wat presies is die "milkshake" wat die "boys to the yard" bring?

Saturday, July 15, 2006

28 Kbps

Ek mis my 40 Mbps.

Thursday, July 13, 2006

Jou naaste soos jouself

Noudat ek terug is by die huis, besef ek ewe skielik weer hoeveel mense lief is vir my. Natuurlik het ek nog altyd geweet hulle is lief vir my, maar daar's niks soos 'n verwelkoming met aalwynplantjies toegedraai in tradisionele blou Xhosa lappe om jou te laat verstaan hoe geliefd jy is nie.
Miskien is ek meer bevoorreg as ander, maar daar is baie mense wat ek weet my liefhet. Ek twyfel vir geen oomblik aan die opregtheid van hul liefde nie. (Ek praat nie nou van familie nie, hoewel ek hulle natuurlik ewe maklik hier kan insluit.)
Ek is ook baie lief vir elkeen van hierdie mense.
Al hierdie liefde waarin ek op die oomblik baai, gemeng met my boere-Calvinistiese (om 'n term by Ferdinant Deist te leen) opvoeding, het my egter nou aan die wonder:
Het jy mense lief omdat jy hulle as mense liefhet, of het jy mense maar net lief omdat hulle jou liefhet? Ek hou van jou omdat jy van my hou en jy hou van my omdat ek van jou hou.
Beteken dit nie dat jy dan op die ou end maar net jouself liefhet nie, al is dit dan jouself deur ander se o"e?
Kan dit wees hoekom mense wat sukkel met selfaanvaarding, ook sukkel om liefde te gee en te ontvang?
Beteken dit dat alle liefde eintlik selfsugtig is?

Monday, July 10, 2006

Ek stel bekend. . .

My nuwe kar!


Ek het nie hierdie keer by die verkoopsman geslaap nie. Die man by wie ek wél slaap - nogal gereeld, noudat hy werkloos is (maar dit is 1. nie nou relevant nie en 2. overshare) - het my egter baie gehelp met die onderhandeling. Gevolglik kon ek weer kar koop vir onder boekwaarde. Ek is die enigste mens wat ek ken wat wins maak wanneer ek my kar verkoop.

Saturday, July 08, 2006

Huis & Hart

My begeerte om in Skandinawië te bly, is algemeen bekend. Maar waar anders as in SA kan ek my huweliksherdenking só vier:


Tussen olifante, elande, rooi hartebeeste, massas kudu's en vlakvarke.

Wednesday, July 05, 2006

Ek wens ek het my kamera by my gehad.

Gesien in 'n besigheid se damestoilet:

Please remember to flash the toilet.

Wel, uhm... natuurlik. Hoe gaan jy 'n toilet gebruik sonder om dit te flash? Of het my ma my verkeerd geleer?

Monday, July 03, 2006

O vreugde!

My Dell laptoppie se hardeskyf het die lewe finaal vaarwel geroep (met al my foto's op). (Ek dink hierdie post verwys.) Aangesien sy my enigste rekenaar was en NGO's niks vinnig vervang nie, is ek gevolglik rekenaarloos. Sug. Hierdie blog kan ongelukkig net aandag kry as ek dit kan regkry om in een van my kollegas se kantore in te sluip en hul rekenaar te gebruik.
"We are currently experiencing technical problems. Please stay tuned."

BlogAfrikaans.co.za