Wednesday, May 31, 2006

Daar's 'n ouel in die mossienes

Ek het so pas 'n nuwe (Afrikaanse) woord geleer:

ouel

Weet enigiemand wat dit beteken? (As jy reg is, sal ek vir Pienk Zuit vra om vir jou 'n prys te reël.)




Oops, ek wonder hoe ek gaan weet wie is reg?

Do it for your country


Volgens die April uitgawe van die UK Men'sHealth, werk mans in Brittanje gemiddeld 43.6 ure per week (p. 82).
Op die volgende bladsy staan daar die "Length of a typical British employee's working week - the longest in Europe" is 70 ure.
Ek is nie 'n wiskundige nie, maar dit lyk regtig vir my asof die arme vrouens in Brittanje hulle vrek werk! Go figure.
Van 43.6 ure vir net die mans, na 70 ure vir almal? Is daar 'n wiskundige daarbuite wat asb vir ons hierdie som sal doen, sodat ons kan uitwerk hoeveel uur per week die arme vrouens in Brittanje werk? Kom ons los 'n comment van bewondering op elke vrou wat ons ken wat in Brittanje werk se blog - dat sy sowaar nog tyd kry om te blog ook! Respek.

Tuesday, May 30, 2006

Intimidasie

She'd stopped reading the kind of women's magazine that talked about romance and knitting and started reading the kind of women's magazine that talked about orgasms, but apart from making a mental note to have one if ever the occasion presented itself she dismissed them as only romance and knitting in a new form.
(Terry Pratchett & Neil Gaiman, Good Omens)


Hierdie aanhaling het niks met hierdie post of die kommentaar daarop te doen nie, maar hulle het my aan mekaar laat dink.

Monday, May 29, 2006

Tadatada!

My paper, waaraan ek veronderstel was om die laaste vyf maande te werk maar wat ek in die laaste tien dae geskryf het, is klaar!


Pas afgelaai by die korrekte plek op die world wide web.



Jipee!


Hahahahahahahahahahahahahahahahahahahahahaha

Saturday, May 27, 2006

Terwyl ek nou aan die gang is...






Powered by Castpost

Friday, May 26, 2006

Hoe die Smurfieliedjie behoort te klink


Powered by Castpost

Ek maak ook nie kos nie

Glad nie. Die hoof van die huis doen dit. Hy's nogal goed daarmee.
En met ander goed.

Hy kan nie sing nie though. Al dink hy sy weergawe van die Smurfieliedjie is briljant.

Thursday, May 25, 2006

Ek eet nie seekos nie

Glad nie. Wie wil dan nou troeteldiere eet? En besides, dit smaak na vis. Ek hang liewer by my plaaslike akwarium uit (wanneer ek in SA is. Hier's nie een waar ek woon in Swede nie.)

My vissies toe ek hulle laas in Januarie gesien het. Ek hoop hulle is nog okay as ek Julie by die huis kom.

Dit is daarom vir my 'n voorreg om aan te kondig dat dit onwettig kan wees om vis te eet, volgens Health24. Volg dus die liewe mense se raad, druk hul tabel, knip dit uit en bêre in jou beurse. (Watter tipe mens, moet ek nou ongelukkig vra, sal so iets doen? Volg liewer my raad: moenie seekos eet nie!)

Wednesday, May 24, 2006

Wings

It would be nice to say that the tiny frogs thought long and hard about the new flower, about life in the old flower, about the need to explore, about the possibility that the world was bigger than a pool with petals around the edge. In fact, what they thought was: "._._.mipmip._._.mipmip._._.mipmip".
Terry Pratchett

Dis nie myne nie, dis nie joune nie

So lees ek gister die aangrypendste, eerlikste, dapperste, mees ontstellende post wat ek nog ooit in die blogosfeer teëgekom het. Lees ek dit saam met gm se post oor die gnostiek, plus heelwat ander posts van verskeie mense oor “tradisionele” Christenskap, dan voel ek erg magteloos en vies – oor/vir omies met goeie bedoelings, eng teologie deur die eeue en die onvermoë van (sommige) Christene om dieper te kyk of te glo.
Die volgende aanhaling uit ’n boek wat ek vanoggend gelees het, help my. Daarom post ek dit vir myself.

A Japanese American woman who spent World War II in an internment camp in California tells this story about the American Asian experience: Catholics, Protestants, and Quakers in the camps worked with the imprisoned Japanese Americans to make their lives more humane. This woman was angry and bitter about her white Christian neighbours who did nothing as other Christians put her people in the camps. But these Christians in her camp made her curious, for they too were acting out of Christian conviction. In here perplexity, she decided to read the Bible. To her amazement she discovered that those who seemed to own Christianity, her oppressors, owned it illegitimately. Words about liberating captives, healing the sick, feeding the poor, and caring for orphans told her about her own life. She became a Christian because she decided the gospel did not belong to those who hurt her.

Kaalvoet Aspoestertjie

Prof vertel dat hy een van die dae ’n stuk “oor hoe gruwelflieks van die laaste ruk 'n spieel vir ons samelewing is” die lug gaan laat sien. Ek sien baie uit daarna, want ek is seker hy sal op sy kenmerkend erudiete manier ons almal tot nuwe insigte bring.
Hy het my egter laat dink aan die fliek wat ek in 1996 of 1997 gesien het: Snow White – A Tale of Terror, met Sigourney Weaver en Sam Neill. Briljant. Hulle vertel die verhaal van Sneeuwitjie net soos wat ons dit geleer het. Maar dis piepie scary.


Die fliek het my laat dink oor die funksie van stories in ’n samelewing. Daar’s verskillende teorieë oor die oorsprong van spesifiek sprokies. Die een kamp beweer dit is deur ’n patriargale samelewing ontwikkel om meisies op hul plek te hou. Die ander kamp (wat ek dink baie interessanter is) beweer dat dit vrouens se manier was om vroulike, subversiewe wysheid van een generasie na die volgende oor te dra. Die sprokies het ’n groot deel van hierdie vroulike krag verloor toe die Grimm broers dit verwerk het, maar as jy tussen die lyne lees (of ouer weergawes van die sprokies navors) kan jy die oorspronklike funksie van die sprokies sien. (Ek maak nie die goed op nie! Hier is 'n boek wat 'n vinnige internet search opgelewer het.)
Wat Snow White – A Tale of Terror my egter laat besef het, is dat ’n samelewing weerspieël word in die stories wat hulle vertel. (Jy kan natuurlik hier ook die ou vraag van “art reflecting life or life reflecting art” vra.) En dat ons êrens tussen die 80’s en die 00’s ons onskuld verloor het.

Monday, May 22, 2006

Wat ek raaklees in my navorsing II

Wat is 'n ware man? James B Nelson skryf in On Doing Body Theology:
One might add that those genital emblems of manly courage, the testicles ("he's got balls"), are the most vulnerable part of a man's body. Indeed, we need more testicular masculinity - a vulnerable, generative, quiet and faithful "hanging in there".

Sunday, May 21, 2006

Christene is nie goeie trolle nie


Die hoof van my huis is ’n ensiklopedie wat vir Wikipedia in die skande sal steek. Regtig. Hy weet alles.
So beweer hy nou die dag dat die woord “trol” van die Vikings se woord vir ’n slaaf kom. Die Vikings het ’n groot deel van hul bestaan gemaak deur middel van slawehandel. Christene het egter nie baie goeie slawe gemaak nie. Hulle het hierdie irriterende neiging gehad om te weier om op Sondae te werk en om almal te bekeer. Gevolglik was twee Christen slawe nie eers een goeie bees werd nie.
Die Christen sendelinge het vir die Vikings wat tot bekering kom, wit hemde gegee om in gedoop te word. Baie Vikings het gevolglik tot bekering gekom sodat hulle ook ’n wit hemp kan kry. Mettertyd het hulle egter besluit dat die wit hemp nie die verkoue – wat hulle gekry het nadat hulle in die winter gedoop is – werd was nie.
Dit is hoekom dit 400 jaar gevat het om die Vikings te kersten.
My soektog op die internet kon nie veel van hierdie inligting staaf nie. Dit staan in ’n boek getiteld “The Longboats”, sê die hoof van die huis. Wie’s ek nou om te stry?
Wat ek wel uitgevind het, is dat die Vikings se woord vir slaaf thrall was. En ek het op hierdie interessante site oor Vikings afgekom. En hierdie een oor trolle. Die prentjie kom van hierdie obskure fliek wat van een van Terry Pratchett se stories gemaak word.

Saturday, May 20, 2006

Favourite Movie Moment IV

Fliek: Cinema Paradiso
Toneel: Stop! Moenie verder lees nie! Gaan kyk eers hierdie fliek. Verkieslik nie die "director's cut" nie.
Gaan kyk dit sommer nou.
Die mooiste toneel in enige fliek ooit. Wanneer Salvatore na jare terugkeer vir Alfredo se begrafnis, ontvang hy die geskenk wat Alfredo vir hom nagelaat het: 'n filmrol met al die kissy bits wat die priester hom oor die jare uit die flieks laat uitsny het. Salvatore sit in die verlate filmteater en kyk die een soentoneel na die ander. En die hele fliek maak heeltemal sin. Voorwaar die heel mooiste toneel in enige fliek ooit. As jy dit nog nie gesien het nie - kyk dit!


Friday, May 19, 2006

Identiteitsverlies & Hebreeus

Hierdie post verwys.

fcuked

Ek het gister uitgevind dat die 50 bladsy paper waarvoor ek gedink het ek nog drie weke oor het, oor 10 dae moet in wees.
As my posts dus oor die volgende 9 dae effens sporadies is, of as dit klink na die gebabbel van 'n kranksinnige...

Wednesday, May 17, 2006

Perspektiewe op voete

Vir enige intelektuele oefening om sinvol te wees, moet daar diversiteit wees (ek staan ook by my vorige standpunt). Anders kry jy 'n verwronge beeld van die waarheid, 'n fokus op een klein aspek daarvan. Die feit dat denke oor die Bybel vir eeue lank deur mans gedomineer is, het bv veroorsaak dat ons die grootste spul twak oor die arme Samaritaanse vrou kwytraak.
En Rut. Die arme Rut. My handpalms begin al byvoorbaat sweet as mense oor haar begin praat. Sy word voorgehou as die toonbeeld van vrouwees: gehoorsaam, nederig, afhanklik, 'n rein weduwee (die blote gebruik van die woord "rein" sê al vir jou meer as genoeg). Dan word daar met druppende stroop uitgewy oor hoe sy by Boas se voete gaan lê het op die dorsvloer, hoe beïndruk hy was met haar reinheid en hoe hy daarna aangebied het om met haar te trou. Wat presies dink mense het hulle daar op die dorsvloer gedoen? Nadat Boas heel nag lank die oes gevier het! Ek dag almal weet dat "voete" 'n Hebreeuse eufemisme vir 'n "manlike geslagsdeel" is.

Die hoof van my huis se voete

Turns out dit was maar net die begin, kom ek agter toe ek op die volgende afkom:
Indien ons aanvaar, soos meeste uitlêers, dat “voete” in die Ou Testament gebruik word om manlike geslagsorgane aan te dui, gaan Rut doelbewus dorsvloer toe om Boas te verlei. Op die dorsvloer het hulle vurige seks. In die proses oortree hulle drie seksuele taboes: ’n Jood het met ’n Moabitiese vrou seks (ondenkbaar volgens Esra), hulle is nie getroud nie (ondenkbaar volgens baie van ons opvattinge oor seks) en dan die ergste: seks op die dorsvloer was ’n eeue oue gebruik wat uit Kanaän se dae oorgeërf is. Om seks op die dorsvloer te hê, was om hulde te bring aan die afgode van Kanaän. So is die afgode vereer omdat hulle die oes voorsien het. So is hulle seën verkry op jou eie seksualiteit. Seks op die dorsvloer was aanbidding van afgode. Die nagevolge van die seksuele verhouding is aan ons almal goed bekend: Rut en Boas word ouers, die voorgeslagte van Dawid en Jesus. Die ondenkbare gebeur: die Here seën daardie seksuele verhouding wat volgens alle gangbare idees van wat “ordelike” seks behoort te wees, veroordeel behoort te word. Veral verwag ons dat die Here (en sy verteenwoordigers) sulke seks moet veroordeel. Tog gebeur dit nie. Die verhaal bly in die Bybel. Geen sensor het die moed om die verhaal te wysig nie. Verstommend. Waarom?

Radical in Suburbia

As jy nie gereeld by A Case of Nerves is nie, gaan lees nóú hier.

Tuesday, May 16, 2006

Waarom ek nooit weer 8h in die oggend 'n vergadering gaan bywoon nie.

Die Gullible Info op my rekenaar se desktop beweer dat "26 percent of people in the world wake up before 8 a.m. in their local time zone." Kom ons neem aan, ter wille van die argument, dat dit waar is. Dit beteken dat 74% van alle mense nie voor agtuur in die oggend wakker word nie.
Nou vir wat, vra ek jou, word daar soveel vergaderings om 8 uur die oggend gehou? (Of selfs nog vroeër, as jy my kollegas het.) En vir wat wil soveel werkgewers hê hul werknemers moet om agtuur reeds op kantoor wees?

Monday, May 15, 2006

Die Einde

Sien? Sien?

Sunday, May 14, 2006

Ek kan nie wág nie!

Saturday, May 13, 2006

Sol iustitiae illustra nos

Hierdie besigheid van die son wat alle tye van die dag en nag skyn, versteur my ekwilibrium.
Dog ek sê maar net.

Friday, May 12, 2006

Daar is 5,284,501,940 mense wat armer is as ek.

Jeffrey Sachs beweer in dié boek dat ekstreme armoede teen 2025 uitgewis kan word. As net ’n aks van sy optimisme waar is, hoe kan ons dit ignoreer?
Hy vertel o.a. dat die 400 rykste belastingbetalers in Amerika se gesamentlike inkomste in 2000 ($69 biljoen) meer was as die gesamentlike inkomstes van Botswana, Nigerië, Senegal en Uganda se 161 miljoen mense ($57 biljoen). Wat sal die Bush administrasie hiermee doen? Eenvoudig: in 2001, 2002 en 2003 word die rykste mense se belasting gesny. Die vermindering in belasting vir huishoudings met ’n jaarlikse inkomste van meer as $500 000, was omtrent $50 biljoen per jaar. “More than enough for the United States to pay its share of the Millenium Development Goals.”
Waar pas jy in? Gaan kyk gou-gou hier (een van my gunsteling websites).

Thursday, May 11, 2006

Kersfees in Mei

Vandag is ek die gelukkige ontvanger van 'n unbirthday persent. Die gawe prof het vir my 'n boek gestuur! Ek voel behoorlik soos juffrou se witbroodjie. Dankie prof. Ek kan nie wag om te begin lees nie!
Sodra ek Volume IV van Ian Irvine se "The View from the Mirror" klaar gelees het (eersdaags), word ek ook een van die uitverkorenes (ja, in die uitverkiesing glo ek wel) wat kan sê dat hulle Le Guin lees.
Gepraat van Ian Irvine: kan iemand vir my verklaar hoekom sommige (gewoonlik fantasie) skrywers altyd 4 of 11 boeke vat om 'n storie te vertel wat hulle in 1 of hoogstens 2 volumes kon vertel? Ek het nie 'n probleem met reekse nie. Solank 'n boek 'n properse einde het, is ek gelukkig. Maar hierdie nonsens van boeke (en deesdae ook TV reekse) wat eindig op die hoogste spanningspunt, veroorsaak net onnodige angsversteurings. Besides, teen die tyd wat die volgende boek uitkom, het ek lánkal vergeet wat in die vorige een gebeur het.

Jy kan kies

Vir 'n erudiete artikel oor vrye wil, lees hier. As jy wil.

Wednesday, May 10, 2006

Omdat ek omgee

Ek help graag mense. Selfs al vra hulle nie. Gevolglik deel ek met liefde die volgende goeie raad:
Gestel jy het gaste genooi vir ete - 'n dinner party met heerlike boheemse kos. (Nie 'n braai nie, jammer. Hierdie raad sal nie werk vir 'n braai nie. Tensy jy vis-sosaties op roosmaryn stokkies ala Jamie Oliver braai. Dan sal dit dalk werk.) Jy wil graag musiek speel. Dit moet die regte musiek wees wat vertel hoe kewl en boheems en interessant jy is. Maar prof het Buena Vista Social Club gaan staan en spoil. Wat moet jy doen? Jy glip heel nonchalant 'n CD van Mari Boine in die CD speler. Wanneer jou gaste vra, vertel jy vir hulle dat dit 'n moderne weergawe van Jojk (uitgespreek "joik") - die Sami se tradisionele musiek - is. As jy jou gaste verder wil beïndruk met hoe interessant en wydbelese jy is, kan jy hulle vermaak met jou kennis oor die Sami se kultuur en huidige politieke/ekonomiese probleme. (Dié inligting kan jy self bekom. Ek kan nie alles doen nie! Dis waarvoor Google daar is.)
Daar is ook meer tradisionele vorme van Jojk beskikbaar. Maar dis slegs geskik as die party een van daardie geleenthede is wat rondom jou turkse waterpyp eindig (of begin).

Tuesday, May 09, 2006

Wat is heilig?

Rondloper vra êrens heel onskuldig of iets regtig heilig is. My antwoord: Ek dink alles (en almal) is heilig. Dis ook die rede waarom ek 'n tattoo van 'n keltiese kruis het.

Monday, May 08, 2006

Europa, hier kom ek!

Ons het vandag ons eerste kaartjies begin koop vir volgende maand... Stockholm, Brussels, Rome, Barcelona. Jipee! Daar is baie dinge verkeerd met die wêreld. Een daarvan is goedkoop lugrederye se websites. Hoekom kan hulle nie die flippen prys van die begin af gee nie? Hulle kwoteer 'n prys, jy aanvaar dit... en ewe skielik kom daar nog soveel by vir belasting, nog soveel hiervoor en soveel daarvoor. Dit tick jou af, maar jy gaan maar voort met die transaksie... en betaal vir die voorreg om een stuk bagasie te mag hê, vir die voorreg om die kaartjie by hulle te kan koop... As jy reeds drie keer soveel betaal het as wat hulle aan die begin kwoteer het, bied hulle aan om jou te help om verblyf te vind. Nee dankie! Ek het mos nou my les geleer: 10 Euro vir die kamer. Plus nog vir belasting. En nog vir toerismefooie. En administrasiefooie. 2 Euro vir die bed. Nog 2 as jy beddegoed wil hê. Gaan jy die badkamer wil gebruik? You get the picture.
Die wêreld sal 'n baie beter plek wees as hulle net van die begin af alle kostes lys, dink ek.
En as ek kan uitwerk hoe die Euro knoppie op my rekenaar werk.

Sunday, May 07, 2006

Favourite Movie Moment III

Fliek: Dogma
Toneel: Byna enige toneel uit hierdie freaky fliek. Kom ons sê die toneel heel aan die begin van die fliek, waar Loki op die lughawe met ’n non praat. Die gesprek eindig met haar wat sê dat Loki haar oortuig het: daar is nie ’n God nie. Bartleby vra vir Loki hoekom hy sulke goed doen, want hy wat Loki is, wéét dat daar ’n God is – hy het al persoonlik vir God gesien. Loki se antwoord? “I just like to fuck with the clergy.”
Ek is nie ’n aanhanger van die pop-teologie en Armenianisme wat voort sanik oor sogenaamde “free choice” nie. Ek glo nie daar bestaan so iets soos “free choice” nie. Wat hierdie fliek briljant maak – my “favourite movie moment” van hierdie fliek - is die engele se desperaatheid om terug te kom by God. Alles wat hulle doen, is net om Haar te please, om weer by God te kan wees – al het hulle nie ’n clue hoe om God gelukkig te maak nie.
En tot my skande moet ek erken: ek dink Jay en Silent Bob is snaaks.

Disclaimer: Ek beveel nie vir enigiemand aan om hierdie fliek te gaan kyk nie. Glad nie. As jy dit kyk, is dit op eie risiko. Moenie na die tyd by my kom kla nie. Ek het nie gesê jy moet dit kyk nie.

Saturday, May 06, 2006

Persoonlikheidsversteurings

My paper moet oor minder as 'n maand in wees. Gevolglik doen ek gister 'n toets wat jou help om te sien watter persoonlikheidsversteurings jy alles het. Een vraag (wat seker toets vir paranoia) vra of jy dink mense sê lelike goed van jou agter jou rug. Ek dink nie mense sê lelike goed van my agter my rug nie. Ek wéét mense sê lelike goed van my agter my rug. Ek weet dit omdat daar altyd hulpvaardige mense is wat vir my kom sê wat ander mense alles van my sê. En dis soos om vir Thabo Mbeki te vra of hy dink mense sê lelike goed van hom. Natuurlik sê hulle lelike goed van hom! Dit kom saam met sy posisie. Om dieselfde rede sê mense lelike goed van my. (O ja, die toets het ook getoets vir narsisme.) Ek het egter nie gedink die toets sal verstaan nie. So op die vraag of ek dink mense sê lelike goed van my agter my rug, het ek "nee" geantwoord.

N.S. As jy ook baie werk het wat dringend moet klaar wees, kan jy die toets hier doen.
N.N.S. Hier is 'n erudiete grappie oor Narcissis.

Friday, May 05, 2006

Guh

Danksy Dorothy het ek vandag die "Best post on a South African blog" ontdek. Nee, regtig. Daar's 'n prys en alles.
Ek is jammer. Nederig soos wat ek is, moet ek sê: ek dink my post oor dieselfde onderwerp is baie snaakser. (Die kwaliteit van die foto is dalk nie so wonderlik nie, maar dis ten minste my eie foto.)
Nou is ek egter ook deeglik bewus van die feit dat ek en freddy heel dikwels die enigste mense op hierdie planeet is wat my grappies vang. Dus, ter wille van demokrasie en regverdigheid, het ek besluit op 'n poll. Jy kan stem! Ek het nou so gedink: as albei my lesers stem, en (worst case scenario) een stem vir my en die ander een stem vir daai anner blog, dan stem ek ook vir myself en siedaar: ek wen!

Watter post is die snaakste?
Maere se gunsteling condiment. Condiment. Haha.
Daai ander relaas oor Suid-Afrikaanse souse.





Thursday, May 04, 2006

Genugtig

http://www.ibuzz.co.uk/

Are there any pacifists in the house?

My gewoonlik baie vermaaklike blog gaan vandag, nav prof en rondloper se comments op Unfavourite Movie Moment I, ’n meer tegniese draai vat. Hier dus ’n kort uittreksel uit my kort opsomming van die antropoloog René Girard se I See Satan Fall Like Lightning:



Girard suggests that human culture is founded on and maintained by what he calls the “mimetic cycle”. It is mimetic desire that makes us human (and distinguishes us from animals) – the fact that we desire what others have. In desiring what my neighbour has, I increase my neighbour’s own desire to keep said object of desire. Humans therefore become rivals of their models, even as they more and more reflect one another in their rivalry (they become “mimetic doubles”). This desire increases exponentially as more people form part of this mimetic desire. Of course, as desire increases, obtaining the object of desire becomes increasingly difficult. This becomes a “scandal”, an obstacle (“stumbling block”) that prevents the satisfying of mimetic desire. We end up with a war of all against all. This cannot be tolerated, as it would mean the destruction of society. Society therefore identifies a single unanimous victim – the “single victim mechanism”, seen as the cause of all the chaos and turbulence the community experiences. This victim is then sacrificed, which leads to peace. So, paradoxically, the person causing the turbulence becomes the saviour from the turbulence, the bringer of peace.

Dan verduidelik Girard hoe godsdiens werk en hoe God in Christus die mimetic cycle ontmasker het (wat nie nou relevant is vir die punt wat ek probeer maak nie, daarom laat ek dit uit). Die ressultaat van die ontmaskering:

Our whole culture has, according to Girard, changed into a culture where the one absolute has become the concern for victims… tries to “radicalize” this concern for victims.

Ek weet nie of ek ‘n pasifis is nie. Ek glo wel dat daar glad nie so iets soos ‘n “Just War” bestaan nie. En dat “terrorisme” altyd subjektief is, dat die term “terrorisme” vandag so gelaai is met propaganda dat dit niks sê van die “terroris” nie, maar alles van die magte wat die term “terroris” gebruik. En dat Braveheart, wat so noble geveg het vir “Freeeeeedooooom!” ook in die proses onskuldiges vermoor het en net ‘n held in sommige se oë was.

Wednesday, May 03, 2006

Embody

'n Bekende skildery deur Arthur Boyd:


'n Onbekende skildery deur Arthur Boyd:

Tuesday, May 02, 2006

repos ailleurs

Een oomblik sit ek en wonder: "Waaroor sal ek vandag blieg?" en die volgende oomblik ontvang ek die wonderlike nuus: my goeie vriend freddie het nou ook 'n blog! repos ailleurs. (Wat virri ding is repos ailleurs? Ek het nie 'n idee nie. Hoop iemand sê vir my.)
Al weet ek nie wat die naam beteken nie, is ek baie opgewonde oor hierdie blog. Soos ek my friend freddie ken, gaan hierdie beslis 'n blog van roem en formaat wees. Wees egter gewaarsku: sy eerste post is grusaam en beslis nie vir sensitiewe kykers nie.

Monday, May 01, 2006

Hoekom ek nie mag plantjies hê nie


Die foto sê eintlik alles wat gesê moet word. Maar ek gaan nog sê:
Ek doen alles in my vermoë. Ek gee baie water. Ek gee min water. Sit plantjies in die son. Sit plantjies in die skaduwee. Praat met plantjies. Sing vir plantjies. Ignoreer plantjies. Maar my plantjies vrek.
Iemand vertel my eendag dat mens nie mag tweedehandse klere (hand-me-downs) dra nie. Want sien, as jy klere dra gaan daar stukkies van jou siel in die klere in. As iemand anders dan die klere dra, is daardie stukkies van jou siel op hulle. Soos ’n vloek. Daarom dra jy nie ander mense se ou klere nie. O, en wat van al die massas mense wat nie klere het nie, wat maar net te dankbaar sal wees vir my ou klere, wou ek weet. Dan moet hulle die gevolge dra, was die antwoord. Good for them - was my reaksie – want ek is nogal nice. Kan net goed wees as jy stukkies van my siel kry.
Ek moes nie gespot het nie.
Elke keer as ek ’n rekenaar gebruik, gaan daar stukkies van my siel in die rekenaar in. En my siel is nie rekenaar-compatible nie. Dan breek die rekenaar.
En dit wil voorkom asof my siel plante vermoor.

BlogAfrikaans.co.za